English version

Biografie (‘n meer uitgebreide biografie is hier beskikbaar)
Augustus/September 2018

 

Laurika Rauch kortliks:

Augustus/September 2018

Laurika Rauch het in 1979 'n huishoudelike naam geword met haar eerste treffer, Kinders van die Wind. Sy was een van die mees prominente sangers wat betrokke was by die opbloei van die ‘nuwe Afrikaanse lied’ in die laat sewentiger- en vroeë tagtigerjare. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, en verwerf haar dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch in 1972. As sangeres/aktrise was sy ondermeer betrokke by die destydse TRUK Speelwerk; die eerste Afrikaanse kabaret, Met permissie gesê; Taubie Kushlick se Brel-produksies; Van Berlyn tot Bapsfontein saam met Jannie du Toit– en nog vele meer.

Laurika het reeds verskeie kere saam met simfonie-orkeste in Suid-Afrika opgetree en in die buiteland saam met die bekende Metropole-orkes. Sy het al dikwels oorsee opgetree, ondermeer in Praag, Londen, België, Nederland, Frankfurt, Nieu Zeeland en Australië.

Sy het 25 albums op haar kerfstok, waarvan baie van hulle goue, platinum- of dubbel platinumstatus bereik het. Haar jongste CD is ‘Gunstelinge’, met die nuwe weergawe van ‘Kyk hoe glinster die maan’ daarop.

Van die mees onlangse toekennings wat sy ontvang het, is ‘n Ghoema saam met Loki Rothman vir ‘Luitoon van die jaar’ vir ‘Blou’, ‘n Ghoema vir ‘Die Reis’ (albei 2017), en ‘n 2017 lewenslange toekenning by die Bokkies, die jaarlikste industrietoekennings van Bokradio.

Laurika word gereeld op televisie gesien in musiekprogramme en videos van haar liedjies. Daar is al verskeie dokumentêre programme oor haar en haar werk gemaak.

Van haar hoogtepunte is: Produksies saam met regisseurs Deon Opperman en Ilse van Hemert; Ons kruis paaie saam met Stef Bos, David Kramer, Taliep Petersen, Ray Phiri en ander;  Samekoms/Kopano saam met Vusi Mahlasela; ‘n 2010 optrede by die opening van die parlement by die Kaapstadstadion; om Stuur groete aan Mannetjies Roux op Loftus vir ‘n skare van 60,000 mense te sing; Hart en See saam met Elvis Blue; meer onlangs, die produksie Blou saam met Loki Rothman, Afrikaans is Groot en vele meer.

Laurika is getroud met Christopher Torr, die komponis en skrywer van baie van haar grootste treffers, soos Stuur Groete aan Mannetjies Roux, Op Blouberg se Strand, Kyk hoe glinster die maan, Hot gates, Die Gang, Die mense op die bus, My ou Tante Koba en Stille waters. In 2011 is Chris se musiekspel, Stuur groete aan Mannetjies Roux in die vier hoofsentra opgevoer met meer as 50 staande toejuigings en uitverkoopte vertonings. Chris en Laurika het twee kinders, Simon en Nina en ‘n eerste kleinkind!

Laurika Rauch se musiek – die volledige katalogus – kan  oorsee afgelaai word van Itunes/Apple Music en in Suid-Afrika van Itunes en gestroom word vanaf Joox. Laai die gratis toepassing van Joox af en tik ‘LaurikaRauch’ in om ‘n VIP kliënt te word vir een maand se gratis toegang tot al haar en die ander musiek op Joox.

Verder:

Kinderdae

Laurika Rauch is op 1 November in Pinelands, Kaapstad gebore as die jongste kind van Fritz en Rina Rauch. Sy het ‘n suster, Ingrid en ‘n broer, Johan. Haar pa was openbare betrekkingsbestuurder van Die Ou Mutual en haar ma was ‘n opgeleide maatskaplike werker wat later ook redaktrise van ‘n vrouetydskrif, Die Huisvrou, was. Laurika onthou haar kinderdae as besig! “Ek was altyd besig om van die een eisteddfod na die volgende te gaan. Ek het klavierlesse begin neem vandat ek vyf was en het vir tien jaar in Oom Hannes Uys se Kindersangkring gesing.” Sy het ook voordrag, mimiek en elokusie beoefen. Sy beskryf haarself as ‘n stil kind. Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Ander bekendes in die musiekbedryf wat ook alumni van dié skool is, is Randall Wicomb en Johan Stemmet.

Studentedae

Ná skool het sy drama gestudeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Laurika onthou hoe sy eendag by ‘n vriendin ‘n paar kitaardrukke geleer het. “Ek was onmiddellik verlief op die kitaar. Ek het daardie nag glad nie geslaap nie en heelnag die drukke geoefen vir Cripple Creek, ‘n liedjie van Buffy Saint Marie.”

Die vroeë dae en Kinders van die wind

Nadat sy haar dramagraad in 1972 verwerf het, het sy Afrikaans gedoseer aan ‘n opleidingskool in Kaapstad. Sy wou egter graag oorsee reis en toe sy hoor dat aankopers vir afdelingswinkels oorsee reis, het sy werk gekry as selekteerder van kinderslaapklere by ‘n bekende afdelingswinkel! “Ek was jonk,” sê sy, “en my toekoms het uitgestrek gelê voor my met onbeperkte moontlikhede!” Aan die einde van 1974 het sy die Kaap vir Gauteng (die destydse Transvaal) verruil en van 1975 tot 1976 as aktrise gewerk by Truk Speelwerk, onder Robin Malan. Aan die einde van die twee jaar-lange kontrak, het Laurika weer deeltyds skool gaan hou en in die aande as kelnerin gewerk om die pot aan die kook te hou. Dit was tydens een van hierdie aande dat sy Katinka Heyns en Chris Barnard by ‘n restaurant bedien het. “Katinka  het my so gekyk en blykbaar vir haar man, Chris, gesê “Laurika moet sing – nie biefstuk bedien nie”. Katinka was in daardie stadium besig met die regie van die TV- reeks Phoenix & Kie. Jana Cilliers, wat ‘n rol as kabaretsangeres daarin vertolk het, het in ‘n stadium voorgestel dat Katinka vir Laurika kry om namens haar in die reeks te sing. “En so het ek Jana se sangstem geword. Dit was ‘n groot keerpunt vir my – die rol as ‘spookstem’ vir Jana,” sê Laurika. Ná die vrystelling van die eerste episode van die 1979-reeks, wat vir 13 weke gedraai het, was dié liedjie ‘n oombliklike treffer. Skielik was dit op die Springbokradio- en Radio 5-treffersparades, waar dit die nommer een-plek vir ‘n paar weke ingeneem het. Dit was baie uniek vir ‘n Afrikaanse liedjie. Hierna het Laurika 7 plateaanbiedings gekry. Sy het in dié tyd ook ‘n aanbod vir ‘n vaste aanstelling as onderwyseres gekry, maar op die krag van haar sukses met Kinders van die wind, kon sy eerder ‘n loopbaan in musiek volg. 

Haar sangloopbaan vat vlam: “Encore! Brel” en “Met permissie gesê”

Ná die sukses van Kinders van die wind en haar Debuut-album, het die sanger en liedjieskrywer Anton Goosen haar in Oktober 1979 gevra om saam met hom te toer. Goosen was self besig om in daardie tyd sy naam te vestig met sy oorspronklike Afrikaanse musiek en sy treffer Kruidjie-Roer-my-nie. Voor daardie tyd is Duitse en ander liedjies dikwels vertaal en hier uitgereik, maar oorspronklike liedjieskrywers was dun gesaai. Die grand dame van teater in daardie tyd, Taubie Kushlick, het Laurika in 1980 genooi om die musiek van Jacques Brel in ‘n nuwe produksie saam met Ann Hamblin en Ferdie Uphof te vertolk. Kushlick het vinnig besluit dat hierdie “boeremeisie” soos wat sy vir Laurika genoem het, die aangewese persoon sou wees vir haar nuwe produksie, Encore! Brel. Dit was baie suksesvol en het vir 6 maande gespeel in die Chelsea-teater in Hillbrow. ‘n Opvolgproduksie, The Best of Brel, het in 1983 gevolg.

Sy was ook in 1981 in die rolverdeling van Met permissie gesê, wat deur Hennie Aucamp geskryf is. “Dit was ‘n waterskeiding in Afrikaans – die eerste Afrikaanse kabaret”, sê sy. Janice Honeyman was regisseur en onder meer Amanda Strydom, Rina Nienaber, Gerben Kamper en Bill Curry was in die rolverdeling. Die kabaret was ‘n vorm van uitdrukking van “beskaafde protes” teen die regering van die dag. Op persoonlike vlak het sy in 1984 met ‘n karooboer se kind en lektor (later professor) in ekonomie, Christopher Torr getrou. Hulle het twee kinders, Simon en Nina en ‘n eerste kleinkind.

Christopher Torr ontpop as liedjieskrywer

“Toe ek Chris ontmoet het, kon hy klavier en kitaar speel, maar het nog nooit sy hand aan die skryf van liedjies gewaag nie,” vertel Laurika. Hy het wel in 1984 ‘n liedjie in Engels geskryf oor die bankrower André Stander, wat in Suid-Afrika ‘n byna ikoniese status gekry het, maar dit is nooit opgeneem of uitgevoer nie. Chris het oor die liedjie gesê dat hy nie Stander tot ‘n held probeer verhef het nie, maar dat hy met die liedjie probeer kommentaar lewer het op ons reaksie op, en verromantisering van, die voortvlugtige Stander se doen en late. Hoewel hy ‘n boef was, wou die meeste mense nie gehad het dat hy gevang moes word nie.

Toe iemand vir Laurika ‘n opname van die Duitser Udo Jürgens se musiek gegee het om dalk ‘n vertaling vir die liedjies te skryf, het sy nie eers daarna geluister nie. “Ons het almal geglo dat ons op die maak van oorspronklike musiek en nie vertalings nie, moes konsentreer”, sê Laurika. Chris het egter “skelm” na die Duitse liedjies gaan luister en sonder om Duits te verstaan, Afrikaanse woorde vir die een liedjie geskryf. Die gevolg, was een van Laurika se bekendste treffers, Op Blouberg se strand. “Hy het die woorde voor my neergesit en gesê ek moet net sit en luister. Dit was so verskriklik mooi. Ek was aangedaan toe ek besef dat my Engelssprekende man woorde kon skryf wat klink soos wat Afrikaans gepraat word. Ek het geweet hoe moeilik dit was om goeie liedjies te skryf en in die hande te kry.” Daarna het Chris Torr vir baie van Laurika se grootste treffers gesorg.

Laurika ’n liedjieskrywer?

Laurika skud haar kop as ’n mens vra of sy ooit self haar hand aan die skryf van ’n liedjie gewaag het. “Nee,” sê sy “maar ek het wel ’n hele paar gedigte soos Nalekokers, Niks hang so rooi soos wingerdblaar by HexrivierBallade van ‘n koningsdogter, Windliedjie en Toemaar die donker man getoonset.

Albums

Sedert sy in 1979 met Kinders van die wind byna oornag ’n huishoudelike naam geword het, het verskeie albums en hoogtepunte gevolg. Haar eerste album, Debuut, het ook in 1979 verskyn. “Dit was nie aldag maklik om voltyds ’n oorspronklike kunstenaar in Suid-Afrika te wees nie,” onthou sy van ’n pad wat sy dikwels voetjie-vir-voetjie moes uittrap.

“Die musiekbedryf was toe nog ’n onbekende terrein en ons het niks geweet van goed soos musiekregte en tantieme nie. Dit was dikwels maar ’n harde leerskool.” Groep 2 en Sonja Herholdt was natuurlik die voorlopers en baanbrekers en op daardie stadium die enigste sangers op die toneel wat soortgelyke musiek gemaak het.

Tesame met kompilasies het Laurika reeds 25 albums op die rak laat verskyn. (Vir die volledige lys, sien Albums.)

Stuur groete aan Mannetjies Roux (1990), Die gang (1992) en daarna

Stuur groete aan Mannetjies Roux lê Laurika veral na aan die hart omdat dit in meer as een opsig ’n baanbreker-album was. “Dit was my eerste Afrikaanse album wat platinum-status bereik het én dit was die eerste Afrikaanse vroulike album wat in Suid-Afrika op CD verskyn het.” ‘n Groep sakemanne van Bronkhorstspruit het dit vir haar moontlik gemaak om die album op CD vry te stel in ’n tyd toe CD-tegnologie in Suid-Afrika nog haas onbekend en duur was. Chris Torr het gesorg vir die immergewilde titelsnit oor die legendariese rugbyspeler Mannetjies Roux.

Die gang (1992) was eweneens ’n soort waterskeiding omdat dit die eerste album was wat sy onafhanklik onder Laurika Rauch Produksies uitgegee het. In 1995 het sy het ‘n SAMA-toekenning vir Hot Gates losgeslaan. Met The Brel Album (1997) het sy teruggekeer na van Jacques Brel se grootste treffers. Hoewel daar al voorheen ander suksesvolle grootste treffers-kompilasies was, kon haar 19 Treffers van 21 jaar (1999) terugkyk op ’n loopbaan van 21 jaar. Hierdie samestelling het ook driedubbele platinum-status bereik en bly steeds ‘n goeie verkoper. Die titelsnit van Vier Seisoene Kind (2002) het homself ook gevestig as een van haar grootste treffers. My ou tante Koba (2004) is vir ’n SAMA benoem en op haar album, Tweeduisend-en-tien! (2010), het sy onder meer ’n duet gesing saam met Kurt Darren (Slang in die gras). Haar eerste en enigste vollengte-DVD van ’n solo optrede, LAURIKA RAUCH: Grootste treffers LIVE, het in 2006 verskyn. 

Loopbaanhoogtepunte en toekennings

Tussen 2006 en vandag was daar nog vele hoogtepunte en toekennings. (Vir meer inligting, kliek gerus hier op haar uitgebreide biografie)

Laurika erken dat dit moeilik is om loopbaanhoogtepunte uit te sonder omdat daar so baie was! Nadat sy in 1980 ’n Sarie-toekenning ontvang het as die mees belowende sangeres van die jaar, het baie ander gevolg. Sy was in 1997 die eerste ontvanger van ‘n Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns erepenning vir haar bydrae tot ligte Afrikaanse musiek en Huisgenoot Skouspel het haar in 2006 bekroon met ‘n toekenning vir lewenslange bydrae. Van Berlyn tot Bapsfontein, saam met Jannie du Toit in 1988, was ‘n hoogtepunt. “Ek sonder graag Huisgenoot Skouspel, wat in 2000 begin het, uit vir die manier waarop dit Afrikaanse musiek op ’n swierige manier jaarliks met ’n groot konsert aangebied het en sangers se loopbane verstewig het,” sê sy. Die fakkel wat Huisgenoot Skouspel aangesteek het word reeds sedert 2012 op die mooiste manier deur Afrikaans is groot verder gedra. Sy het vir die eerste keer in 2015 aan Afrikaans is groot deelgeneem. Sy het vir drie jaar tot 2017 die voorreg gehad om aan hierdie groot produksie deel te neem. Sy sonder ook die produksie Samekoms/Kopano saam met Vusi Mahlasela in 1998/99 uit as ’n hoogtepunt. In 2011 het haar man, Christopher Torr, die musiekspel, Stuur groete aan Mannetjies Roux, voltooi, en vier uiters geslaagde speelvakke het vanaf Mei tot die einde van Julie gevolg. Daar was verskeie oorsese optredes oor die jare.

Laurika bly steeds in aanvraag en tree gereeld op. Sy het sedert Twee-duisend-en-tien! nog vier albums tot op hede vrygestel, ‘n goue toekenning (vir Wals, wals Willemien), ‘n Tempo toekenning, verskeie Ghoema Toekennings en ‘n Bokkie toekenning losgeslaan.

Vir meer inligting, kliek gerus hier op haar uitgebreide biografie.

Augustus/September 2018


Soos ’n deur wat draai en draai in ’n lank-vergete droom

Print Friendly, PDF & Email