
Die windmeul van jou siel
Rond soos ’n sirkel in ’n kringloop, soos ’n wiel draai in ’n tol,
g’n begin en ook g’n einde op ’n eind’lose katrol,
soos ’n rots val deur die ruimte, of ’n karnavalballon,
soos ’n mallemeul se draaipad, draai hy kringe om die son,
soos die hand van ’n horlosie die minute weer laat leef
en die aarde soos ’n appel deur die stille ruimte sweef,
soos die sirkel van die wiel in die windmeul van jou siel.
Soos ’n tonnel deur die aarde na ’n tonnel ongekaart
waar jy afklim in ’n kelder na die kamers van jou hart,
soos ’n deur wat draai en draai in ’n lank-vergete droom
of die kringe van ’n klippie wat gegooi is in ’n stroom,
soos die hand van ’n horlosie die minute weer laat leef
en die aarde soos ’n appel deur die stille ruimte sweef,
soos die sirkel van die wiel in die windmeul van jou siel.
Beelde dans deur jou geheue, woorde wat nooit wil gaan lê,
en die somer lê aan flarde, het ek iets verkeerd gesê?
Liefde wandel oor die duine los sy spore in die sand,
is die klank van daardie dreuning net die vingers van jou hand?
Foto’s hang in donker gange, die fragmente van ’n lied,
Half-vergete jong gesigte in die skadu’s van verdriet,
toe jy weet dat dit verby is en die herfs haar blare saai
word die maalstroom van die afskeid net ’n laaste soen koebaai.
Soos ’n sirkel in ’n kringloop, soos ‘n wiel draai in ’n tol,
geen begin en ook g’n einde op ’n eind’lose katrol
en die beelde draai verby soos die sirkel van die wiel
in die windmeul van jou siel.
Verwerking van: The windmills of your mind
Oorspronklike skrywers: Alan Bergman/Marilyn Bergman/Michel Legrand
Afrikaanse verwerker: Deon Opperman
Uitgewer: EMI Music Publishing (S.A.)(Pty)Ltd
