2012 – Immergewilde Laurika steeds tuis in die kollig

Geskryf deur: Marieke Snyman
Oorspronklike artikel op: News24

Kaapstad – Ek ontmoet Laurika Rauch, die legendariese Afrikaanse sangeres, by ‘n koffiewinkel in Canal Walk om oor die begindae van haar loopbaan en haar lewe in die kollig te gesels.

Laurika, kom ek vining agter, lag maklik en gesels lekker. So tussen die kaaskoek en koffie deur, spring sy sommer gou weg met stories van die 70’s, toe alles begin het.

“Ons eerste lot (Laurika, Anton Goosen, David Kramer, Clarabelle van Niekerk, Coenie de Villiers, Amanda Strydom en ander) was redelik geseënd want ons het ongelooflike geleenthede gehad. Die tafel was reeds vir ons berei deur Gé Korsten, Min Shaw, Mynie en Jan Grové – en in daardie tyd was Sonja Herholdt ook al aan die gang.”

Anton Goosen het ‘n groot rol in Laurika se beginjare gespeel. Hy het baie van haar liedjies geskryf en hulle het ook saam deur die land getoer.

“Ek en Anton en Sonja het getoer met FC Hamman se maatskappy met die naam van Klingel Produksies. Daar was ‘n bestuurder, Jakkie, en hy het vir ons optredes gereël. Dan klim jy in ‘n kombi en ry met een of twee musikante of ‘n hele band en ‘n klomp sleepwaens van dorp tot dorp. Dit is daardie eerste ontdekkings van die musieklewe wat vir my ongelooflike herinneringe inhou.”

laurika-anton-n242

‘n Mens sou dink dat die senuwees ná al die jare op die verhoog nie meer pla voor ‘n vertoning nie, maar Laurika help my gou reg.

“Jy verloor dit nooit nie. En as jy dit verloor, dink ek moet jy ophou om dit te doen. Dit is deel van die optrede, die adrenalien. En dit is wat jou optrede goed maak.”

Daar is nie ‘n enkele kunstenaar of liedjieskrywer saam met wie Laurika al gewerk het wat nie vir haar ‘n gunsteling was nie, vertel sy. En wanneer sy wel saam met ‘n ander kunstenaar werk, moet die werk ‘n eenheid vorm – daar moet harmonie wees, pleks van twee afsonderlike stemme.

“My agtergrond in die teaterbedryf maak dat ek ingestel is daarop dat daar nie een mens is wat uitstaan nie, maar dat dit saam ‘gel’. Dis nogal moeilik as jy iets soos Skouspel doen en daar is meer as 60 ander kunstenaars. Maar jy doen maar jou beste,” verduidelik sy met ‘n glimlag.

laurika-n243

Vir haar loopbaan self het sy nie regtig ‘n groot meesterplan nie.

“In ‘n groot mate is daar ‘n organiese element in alles wat ek doen. So daar is nie iets wat ek projekteer en sê, ‘oukei, dit is wat gaan gebeur’ nie. Dis heeltemal ‘n ander storie as jy besluit hierdie is ‘n projek, en daardie mense moet bespreek word en daardie borge moet gewerf word. En ek het eerlikwaar nie die soort persoonlikheid om so iets aan te pak nie.”

Wanneer ‘n mens so lank reeds in die bedryf is, kom daar gewoonlik ook ‘n tyd wat jy moet besluit om jou benadering te verander, of om ‘n ander styl op die proef te stel. Laurika verwelkom dié veranderings, en reken dit is wat haar werk vir haarself en haar aanhangers interessant hou.

“My behoefte is om myself aanhoudend te herskep. Jy moet iets uit jou werk uit put en dit is die uitdaging van herontdekking van jouself as kunstenaar en van materiaal, bestaande of nuut.

“In die vroeër jare… sou jy gesien het dat ek baie geëksperimenteer het. Ek het begin as aktrise en meer ‘n kabaret-kunstenaar. Ek het toe in die hoofstroom beland as gevolg van ‘Kinders van die Wind.’ Toe het die meer gewilde liedjies begin. Anton was nog daar en hy het van my liedjies geskryf. Later het ek met Chris (Torr) getrou en het hy van my liedjies begin skryf.”

Deur die jare het Laurika se gewildheid ook net toegeneem – sy is reeds vir die res van die jaar vol bespreek. Sy reis met haar eie produksie deur die land – en dan lê Skouspel ook nog voor. Daar is egter twee optredes vanjaar wat haar baie na aan die hart lê, albei vir liefdadigheid.

“Die een is Want ons kan/‘Cause we can, wat elke jaar gereël word deur Margit Meyer-Rodenbeck en Hennie van Greunen. Die program bestaan uit die bydraes van verskeie sangers, komediante en persoonlikhede. Die optredes word gehou om geld in te samel vir liefdadigheidsorganisasies en elke jaar kies hulle twee of drie verskillende organisasies om te ondersteun. Die vertoning vind op 29 Julie plaas in die Bellville Burgersentrum.

“Die ander een wat vir my baie na aan my hart is, my spesifieke liefdadigheid wat ek ondersteun, is vir ‘n fondsinsameling vir die kogliêre inplantaat van Irene Herselman deur die Steve Biko Hospitaal.” Die middagvertoning is op die 21ste Oktober in die Aula in Pretoria.

En wat is dit wat Laurika se werk vir haar vandag steeds ‘n vreugde maak? Sy antwoord my vraag met ‘n relaas uit die dae toe sy nog by die legendariese After Dark-restaurant naby die Kerkplein in Pretoria opgetree het.

“Ek het jare gelede ‘n pianis gehad, hy is reeds oorlede. Sy naam was David Taljaard. Ek en David het by die After Dark-restaurant opgetree. Dit bestaan nie meer nie. Dit was ‘n donker plek en daar kon so 200 mense inpas. Daar was ‘n klein verhogie. Maar After Dark het vir kunstenaars die geleentheid gebied om dinge te probeer soos jy nie sal kan glo nie. En daar was ‘n gereelde gehoor wat jou sou ondersteun of jy nou ‘n gek van jouself maak of nie.”

Laurika is vir ‘n lang tyd elke jaar gevra om in Desembermaand daar op te tree. So gebeur dit toe een jaar dat sy ‘n vreeslike tandpyn ontwikkel. Sy besluit toe om liefs nie antibiotika te gebruik nie, want sy is bang die medisyne beïnvloed haar stem en optrede. Vir tien volle dae het sy met erge tandpyn opgetree.

“’n Mens doen dit nie. Dit was baie verspot van my. David vra my toe een aand in die kleedkamer voordat ons opgaan ‘Is dit baie seer?’ en ek sê toe vir hom, ‘Nie as ek sing nie.’ Alles verdwyn as ek sing. Alles. Psigiese pyn, emosionele pyn, fisieke pyn, enige sorge.

“Alles verdwyn as ek sing.”

laurika-n244

– Besoek Laurika op Facebook