Deur die oë van ‘n kind

Deur die oë van ‘n kind is die wêreld geel
’n Strand waarop ons uitgelate speel
Ek duik jou, jy val,
Ons slaan vuis oor ’n bal
Ek huil nie te veel nie:
Die wêreld is heel

Deur die oë van ‘n kind is die wêreld groen
Want pappa is hier, hy kan alles doen
Jy glo wat hy sê
Jy kan kry wat jy wil hê
In ruil vir ’n taai klapsoen

Refrein:
Sien ’n reënboog in droë woestyn
’n Glimlag wat breek deur die pyn
Jy vra waar’s die hoop
En ek wys jou die son
Wat die oë van ’n kind sien skyn

Deur die oë van ’n kind is die wêreld rooi
En gister se einas ver weggegooi
As kersvader klim
By die skoorsteen in
Dan toor hy die lewe mooi

Selfs die donkerste nag sien ’n kind as blou
En swartsteenkoolgrys sien hy effens grou
Want wie’s dan nou bang
Vir die goed wat jou kan vang
As pappa jou styf vashou!

Refrein

Ek’s bang vir die kraai wat die tyding bring
Maar kinders kyk oor hom, hoor engele sing
Ek wens ek kan reis op die gisterwind
Om weer te kan sien soos ’n kind
Om weer te kan sien soos ’n kind
Om weer te kan sien soos ’n kind

Refrein x 2

….wat die oë van ’n kind sien skyn
wat die oë van ’n kind sien skyn

Woorde en Musiek: Louis Brittz
Uitgewers: MAR Gospel Music Publishers