Nuus van Laurika

Nuus van Laurika

Hallo en welkom by my nuwe webblad!

Hierdie is die vierde hersiening sedert my eerste een van 2001. Ek hoop jy vind dit gebruikersvriendelik, mooi en interessant. ‘n Hele paar wonderlike mense het my hiermee gehelp. Baie baie dankie aan Tania Fourie van WebsiteVision (http://www.websitevision.co.za) wat vir my so skeppend en geduldig ‘n pragtige webblad gebou het, en aan Janine Terblanche, van Blue little owl house (http://www.bluelittleowlhouse.co.za) wat die nuwe grafiese werk met ‘n fyn kennersaanslag en gedoen het. (Nina Torr (http://www.ninatorr.com) se oorspronklike grafika by elke titel het ons behou - dit is heeltemal te mooi om te verloor!). Paulo Azevedo van Coleske Artists het baie gehelp met tegniese versorging. Julle rock!

Skryf gerus vir my by laurika@laurikarauch.com as jy wil gesels of message my op Facebook. As jy my vir ‘n vertoning wil bespreek, is daar ‘n maklike vorm om in te vul op die Kontak-bladsy.

Ek het in Oktober 2017 ‘n nuwe saamgestelde album, Gunstelinge, vrygestel. Die nuwe weergawe van Kyk hoe glinster die maan, wat gebruik was in die fliek Liewe kersfeesvader, is ook daarop. My musiek is nou natuurlik digitaal beskikbaar – Gunstelinge is ook daar te kry. In Suid-Afrika kan die meeste van my albums (van die heel begin af) aflaai vanaf Itunes, en stroom vanaf Joox. In die res van die wêreld (behalwe Noord-Amerika) kan jy my aankoop en stroom vanaf Apple Music/Itunes. Laai die gratis toepassing van Joox af (sien Winkel) en tik ‘LaurikaRauch’ in om ‘n BBP kliënt te word vir een maand se gratis toegang tot al my musiek op Joox.

Aan die begin van Desember 2017 het ek agtergekom dat iemand ‘n ballet-video saamgestel het met my
weergawe van Lord of the Dance, soos wat ek dit op die My ou Tante Koba-album sing, as klankbaan. Ek het nie die oorsprong van die video geken nie maar besluit om dit (greinerig en lae resolusie soos wat dit is) as my kersboodskap op Facebook te pos. Die likes het 125,000 verbygesteek. Ek is so bly dat dit byval gevind het. Ek waardeer elke boodskap wat ek toe ontvang het en ook alle ander boodskappe regdeur die jaar.

In April 2018 het ek en Loki Rothman met ons produksie Blou by die KKKNK opgetree. Maryke Roberts het in Krit  (die feeskoerant) mooi goed gesê: https://www.netwerk24.com/ZA/Krit/Nuus/kyk-applous-vir-laurika-en-loki-by-die-kknk-20180403. Baie dankbaar. Ek doen op die oomblik baie vertonings regoor die land en September gaan ek en Loki ‘n bietjie oorsee om by die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam op te tree. Groot nuus kom ook volgende jaar - jy sal my kan sien optree op plekke waar ek baie lanklaas gehoor was – maar meer daaroor later!

Alles wat mooi is vir jou vorentoe. Ons praat gou weer.

Laurika

Augustus/September 2018

English version

Rol af/Scroll down

Print Friendly, PDF & Email